Ons Geskiedenis

Sedert die eerste skooltjie in 1925 naby Vredendalstasie op die plaas Omsit van mnr. Evert Kotze in ‘n eenvertrekgeboutjie begin het, het daar baie water onderdeur die brug gevloei.  Laerskoolleerlinge is later gehuisves in ‘n skooltjie agter die destydse polisiestasie , asook in die ou kerksaal. Die Stasieskool, met mnr. Herman Mostert as hoof, is later gehuisves in ‘n departementele gebou op die plaas Rosco van Mnr. Cohen.

In 1951 het die primêre afdeling deel geword van die destydse hoërskool en een skool gevorm. Al die leerders van die primêre afdeling is in die huidige junior primêre afdeling van die skool gehuisves met die hoërskool waar die senior primêre afdeling vandag is. Hierdie reëling het van krag gebly tot aan die einde van 1968. ‘n Nuwe hoërskoolgebou is langs Grensstraat voltooi en in Januarie 1969 skei die hoër- en laerskool. Die laerskool het in die ou geboue agter gebly met mnr. PAJ Coetzee as eerste skoolhoof. Die personeel het toe bestaan uit 15 leerkragte, waarvan 5 mans en 10 dames was.

Die leerlingtal in 1969 was 360 en die heel eerste Sub A-leerling wat ingeskryf is, was Anneke van Zyl, nou mev. Anneke Lutz van Lutzville. ‘n Groot aanwins  tot die skoolgeriewe was beslis die skoolsaal wat in 1981 voltooi is.

Na mnr. Coetzee se vertrek is mnr. D Triegaardt in 1988 aangestel as skoolhoof . Aan die einde van 1991 verlaat mnr. Triegaardt Laerskool Vredendal nadat hy benoem is as hoof aan die Laerskool De Tijger in Parow. (Laerskool Naastdrift se leerders sluit aan by Laerskool Vredendal aan die einde van 1992). Mnr PJV Boonzaaier word in 1992 aangestel as skoolhoof, ‘n pos wat hy beklee tot in 1997 toe mnr. JM Moon as skoolhoof aangestel word. Mnr. Moon word die langsdienende skoolhoof en verlaat Laerskool Vredendal eers met sy aftrede in 2019.

Die leerlingtal het gedurende die afgelope aantal jare mooi gegroei en staan tans op 653, wat die leerders van die Graad R-klas insluit.