Somer Sport

‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

Die volgende sportdoelwitte word nagestreef:

  • Maksimale deelname
  • Vaardigheidsontwikkeling vir alle leerders
  • Kundige en entoesiastiese afrigters
  • Gesonde kompetisie oor ‘n wye front
  • Talentontginning
  • Prestasie is nie ’n maatstaf opsigself nie, maar moet die gevolg van suksesvolle toepassing wees
  • Uitnemende sportfasiliteite

KRIEKET

Ons o.11- en o.13-krieketspan neem gedurende die 1ste en 4de kwartaal aan ligawedstryde deel. Jaarliks vind ‘n “Pappa en Onderwyser” geleentheid plaas wat ‘n “six a side” teen ons 1ste span speel. Dis altyd groot pret en gee aan ons ouers, kinders en onderwysers die geleentheid om hegte bande te bou. Ons neem ook jaarliks deel aan proewe vir o.11-, o.12- en o.13-krieketspelers wat in die NWB-span opgeneem kan word.

Mini-Krieket

Mini-krieket word vir ons o.7 tot o.9 seuns aangebied.  Hier word spesifiek aan goeie hand-oog koördinasie, korrekte boul-, veldwerk- en kolfvaardighede aandag gegee. Ons kinders neem deel aan mini-krieketdae bv. die KFC Mini-Krieketfees en plaaslike mini-krieketdae.

TENNIS

Leerders speel volgens rangorde en nie volgens ouderdomsgroepe nie. Die eerste- en tweede span bestaan uit 4 dogters en 4 seuns elk. Hierdie spanne speel wedstryde in kwartale 1 en 4. Die eerste span neem ook gereeld aan tennistoernooie deel. Ons beskik ook oor baie bevoegde afrigters wat ons spelers afrig, alhoewel ‘n groot deel van ons spelers ook privaatafrigting ontvang. 

Gr. 1-3 tennis, waar die basiese tennisvaardighede aangeleer word, word ook weekliks afgerig.

SKAAK

Skaak hou verskeie voordele in vir die kranige skaakspeler.

  • Kinders van alle ouderdomme geniet dit om skaak te speel. 
  • Bou kinders se selfvertroue en beheer van self.
  • Verhoog geheue, konsentrasie, kreatiwiteit en logika.
  • Verbetering van konsentrasievermoë en probleemoplossingsvaardighede.
  • Bevorder logiese redenering en strategiese denke.
  • Bevorder waardes soos respek en goeie sportmangees.

Skaak word nie deur seisoene, ouderdom of modes beïnvloed nie. Dit kan dus heeljaar beoefen en geniet word. 

By Laerskool Vredendal speel leerders in verskeie ouderdomsgroepe, nl. O/7, O/9, O/11 en O/13. Leerders neem deel aan die Bo-Weskus Individuele Skaakkampioenskappe om gekies te word vir ‘n plek in die Weskus Individuele skaakspan.  Na afloop van die Weskus Prestige Skaakkampioenskappe word leerders gekies om Weskus skaak by die Wes-Kaap Skaakkampioenskappe te verteenwoordig.  Na dit wag die SA Skaakkampioenskappe.

Die afgelope 20 plus jare het Laerskool Vredendal ‘n trotse geskiedenis van puik individuele en topskole prestasies behaal.

Vir die Bo-Weskus Topskole skaaktoernooie neem leerders deel, in spanne van 6 spelers.  Hier dring diespan deur om Bo-Weskus by die Weskus Topskole Skaaktoernooie en daarna Wes-Kaap Topskole Skaaktoernooie te verteenwoordig.  

Atletiek

LSV se Kleureatletiekbyeenkoms word aan die begin van die jaar gehou. Daar word ‘n veldbyeenkoms en ‘n baanbyeenkoms gehou waar massadeelname vir ons baie belangrik is.  Hier word ook tussen die Geel- en die Groenspan lekker gees gebou met ‘n geesbeker en ‘n prestasiebeker wat na die byeenkomste oorhandig word. Ons atletiekspan word hier gekies en neem aan verskeie byeenkomste deel, o.a. die Driehoek Prestige Byeenkoms, Noordwes-Boland, Boland, Wes-Kaap en die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe. Ons maak gebruik van onderwysers en buite afrigters wat bevoeg en passievol is oor die ontwikkeling van ons atlete.