Winter Sport

‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

Die volgende sportdoelwitte word nagestreef:

  • Maksimale deelname
  • Vaardigheidsontwikkeling vir alle leerders
  • Kundige en entoesiastiese afrigters
  • Gesonde kompetisie oor ‘n wye front
  • Talentontginning
  • Prestasie is nie ’n maatstaf op sigself nie, maar moet die gevolg van suksesvolle toepassing wees
  • Uitnemende sportfasiliteite

RUGBY

LSV is die toonaangewende skool in die Noordwes-Boland distrik. Ons neem jaarliks aan die NWB-proewe deel en lewer gereeld spelers op wat ons skool in provinsiale spanne verteenwoordig. Ons het o.7-, o.8-, o.9-, o.11- en o.13-rugbyspanne. Alle spanne neem deel aan ons sportdae, asook aan weeklikse ligawedstryde. Die o.13A- rugbyspan neem jaarliks aan eerstespantoernooie, asook ‘n ontwikkelingstoernooi, aan die einde van die seisoen, deel. Elke jaar reël ons ontwikkellings-geleenthede om teen sterker skole in die land mee te ding om sodoende ons spelers die geleentheid te bied om te verbeter. Die afrigtingskorps by LSV is ‘n eenheid wat doelgerig werk om ons seuns te ontwikkel met waardes soos respek, selfdissipline, doelgerigtheid en ‘n passie vir die spel.

NETBAL

By Laerskool Vredendal is netbal ons grootste wintersport! Ongeveer 180 dogters vanaf o.7 tot o.13 neem in een van ons 25 spanne deel. Geleenthede word vir almal geskep om maksimale deelname te verseker.  Behalwe ligawedstryde speel ons ook nog soveel as moontlik wedstryde teen skole in die Boland en Weskus. Ons spanne onderneem ook toere en neem aan groot sportdae deel.

Ons afrigters is net so passievol oor netbal soos ons spelers. Afrigters woon gereeld kursusse by om op hoogte van die nuutste reëls te bly. Jaarliks kom WPNA na ons skool toe om die dogters se vaardighede op te skerp. Die o.12 en o.13 spanne neem jaarliks aan die Topskole kompetisie deel. 

Die dogters speel in die Vredendal-sone en neem ook aan die Weskus-Noord, Weskus- en Wes-Kaap proewe deel. Ons netbal is baie kompeterend en kan met van die bestes in die Wes-Kaap vergelyk.

HOKKIE

LSV het besluit om hokkie by ons skool te implementeer. Ons het dit goedgedink om ons leerders bekend te stel aan die nuwe sportsoort. Om die bal aan die rol te kry gaan ons begin met vaardigheidsontwikkeling wat op ‘n latere stadium sal lei tot die samestelling van spanne. Die spel en posisies sal aan leerders verduidelik word. Ons skool wil graag vir alle LSV leerders die geleentheid bied om op verskeie gebiede blootstelling te kry.  Vir ‘n begin is alle dogters (0/10 – 0/12) welkom om dit by te woon. Dit sal geskied vanaf die tweede kwartaal op Maandae, 15h00 tot 16h00. Elke leerder moet asseblief ‘n hokkiestok en bal saambring na die oefeninge.