Grondslagfase

Die Grondslagfase van Laerskool Vredendal glo in die holistiese ontwikkeling van die kind. Ons het 3 klasse van elke graad vanaf Gr. R. Lees en Wiskunde is vir ons prioriteit en word op kreatiewe maniere aangebied.

Ons volg die volle kurrikulum. Dit vorm die grondslag van kennis, vaardighede en waardes wat noodsaaklik is vir leer. Puik sistemiese uitslae word behaal.

Doelstellings
  • Ons wil gelukkige en selfstandige leerders kweek deur gebalanseerde onderrig oor al vier vakke.
  • Ons strewe om kwaliteit en uitnemende onderrig vir elke leerder te voorsien en het ten doel om hul begrip uit te bou.
  • Ons wil leerders bewus maak van waardes sodat hulle nie net akademies ontwikkel nie, maar ook emosioneel en sosiaal.
  • Ons wil die intelligente leerder tot hoër hoogtes stimuleer deur verryking en ondersteuningshulp te gee aan leerders met leeruitvalle.
  • Ons streef om elke dag ons plig te doen en goeie kommunikasiekanale met ouers en leerders oop te hou.

Skrif

  • Letter- en syfervorming moet eksplisiet onderrig word om perseptuele vaardighede, hand-oogkoördinasie en konsentrasie te ontwikkel
  • Korrekte potloodgreep en sitposisie is van kardinale belang.
  • Ons fokus ook op korrekte spasiëring tussen woorde.
  • Gr. 1

    • Syfers, asook letters van die alfabet word in klein- en hoofletters onderrig om later in 8,5mm liniëring te skryf.
  • Gr. 2

    • Daar word op netheid en korrekte spasiëring tussen woorde gefokus.
  • Gr. 3

    • Lopende skrif word aangeleer om die vermoë te ontwikkel om vinnig, effektief en leesbaar te kan skryf.

Vakke

Huistaal

ʼn Geïntegreerde taalbenadering word gevolg en dit  lê die fondasie van verdere leer in die Intersenfase. Die Reënboogwerkboeke van die Departement van Basiese Onderwys  word aanvullend gebruik. Verskillende leesreekse en handboeke van Platinum en Funda Wande word gebruik om die volgende vaardighede te ontwikkel:

  • Luister en Praat
  • Lees en Klanke
  • Handskrif
  • Skeppende Skryfwerk

Gevorderde hulpbronne in Afrikaans, sowel as Engels is tot die leerders se beskikking om ‘n goeie begrip, woordherkenning en klankkennis te ontwikkel. Hierdeur word hul leesspoed, akkuraatheid en intonasie verbeter.

Addisionele Taal

Gr. 1: Baie luister- en praatvaardighede ondersteun addisionele taalontwikkeling om ‘n uitgebreide woordeskat op te bou .

Gr. 2: Daar word gefokus op praat-, klank- en leesvaardighede.  Leesstrategieë wat in Huistaal aangeleer is, word gebruik om betekenis te skep en uiteindelik ook in hul tweede taal te kan skryf.

Gr. 3: Lees- en skryfvaardighede word verder opgebou uit praat- en klankvaardighede van vorige grade.

Wiskunde

Deur die proses van waarneming, voorstelling en ondersoek van patrone en kwantitatiewe verwantskappe in fisiese en sosiale verskynsels, word nuwe wiskundige idees en insigte ontwikkel.

Doelwitte waarop ons fokus: 

  • Om leerders se selfvertroue en bevoegdheid te ontwikkel om enige wiskundige situasie te hanteer, sonder om deur ‘n vrees vir Wiskunde gekniehalter te word;
  • ‘n gees van weetgierigheid en ‘n liefde vir Wiskunde
  • diepgaande konseptuele begrippe ten einde Wiskunde te verstaan
  • spesifieke kennis en vaardighede wat nodig is vir die toepassing van wiskundige probleme

 Grondslagfase-Wiskunde fokus op:

  • Getalle, Bewerkings en Verwantskappe
  • Patrone, Funksies en Algebra
  • Ruimte en Vorm
  • Meting

Die volgende getalgebiede dien as rigsnoer vir progressie:

  1. R: Getalbegrip tot 10
  2. Gr 1: Getalbegrip tot 20
  3. Gr 2: Getalbegrip tot 99
  4. Gr 3: Getalbegrip tot 999
  • Aktiwiteite soos tel, hoofreken en skatting vind daagliks plaas.
  • Getalbegrip word ontwikkel deur getalle te beskryf, vergelyk en rangskik.
  • Vanaf Graad 1 word aandag geskenk aan plekwaarde en probleemoplossingstegnieke soos optel, afrek, vermenigvuldiging, verdeling, halvering en verdubbeling
  • Getalkonsepte word met behulp van tegnologie, verskillende konkrete apparaat en deur die gebruik van Reënboogwerkboeke en  Bala Wande ingeoefen
  • Daaglikse probleemoplossingsaktiwiteite word aangebied.
Lewensvaardighede

Lewensvaardighede rus leerders toe vir ‘n suksesvolle en betekenisvolle lewe in ‘n snelveranderde samelewing. Leerders leer om kreatief te dink en konsepte en vaardighede soos waarneming, vergelyking, klassifisering, meting, eksperimentering en kommunikasie te ontwikkel. 

Die Funda Wande-program, sowel as Reënboogwerkboeke word gebruik en integreer met Huistaal en Wiskunde. Integrasie dra by tot leesbegrip en ontwikkeling van woordeskat en uitbreiding van ‘n goeie algemene kennis. 

Lewensvaardighede ontwikkel vaardighede, kennis, waardes en houdings wat leerders bemagtig om ingeligte besluite te neem en gepas op te tree. Die vak bestaan uit:

  • Aanvangskennis
  • Persoonlike en Sosiale Ontwikkeling
  • Skeppende en Uitvoerende kuns
  • Liggaamlike opvoeding en Beweging.
Rapportering

 ‘n Assesseringsprogram met formele en informele assessering word gevolg.  Gr. R word slegs informeel geassesseer. Terugvoering word gereeld aan ouers gegee. Kodes (1-7) word vir die meting van vaardighede gebruik.

 

  • Rapportering vind plaas deur formele verslae aan die einde van elke kwartaal, asook tydens ouergesprekke.
  • Ouergesprekke word op uitnodiging aan die einde van elke kwartaal gereël.
  • Leerders met uitvalle word vroeër in kennis gestel en in samewerking met die SGOS-opvoeder en ouer word intervensie bespreek en beplan.

Algemeen

Huiswerk

Dit word deur die graadgroep saamgestel en aan ouers uitgestuur. Briewe word digitaal deur middel van D6 aan ouers gestuur.

Tydsduur wat vir huiswerk aanbeveel word:

Gr. 1 en 2:  Ongeveer 30 minute per dag.
Gr. 3:  45 minute per dag.

Die rol van die ouer:

  • Inoefening van lees, klanke/woorde skryf.
  • Bystand aan leerders om vasleggingswerk te doen.
  • Huiswerk en werkboeke moet weekliks geteken word.
  • Goeie kommunikasie met klasopvoeder.

Ouerinligtingsessies

Dit vind vroeg in die jaar plaas in die onderskeie grade se klasse en die volgende word bespreek:

  • ‘n Oorsig oor die graad se akademie wat die jaar gedek word, asook kultuur- en sportaktiwiteite wat die skool aanbied.
  • Assessering, meting van vaardighede en slaagvereistes.
  • Klaskamerpraktyke en noodsaaklike kommunikasie aan ouers om die akademie vlot te laat verloop.