Koor

Laerskool Vredendal glo dat deelname aan kultuur-aktiwiteite ‘n positiewe bydrae lewer tot die holistiese ontwikkeling van ‘n kind. Ter ondersteuning hiervan bied ons ‘n verskeidenheid aktiwiteite vir ons leerders aan.

Aan die einde van elke jaar word erkenning gegee aan leerders wat op kultuurgebied presteer het.

Junior Koor

Die Junior Koor is die wegspringblok van ‘n lewenslange oriëntasie tot musiek en sang. Oudisies word reeds vir die  Grondslagfase vroeg in die jaar gehou om goeie stemme uit te soek. In dié koor neem leerders in ‘n groep deel en ontwikkel selfvertroue, dissipline en sosiale- en akademiese vaardighede. Hulle leer ook om probleme op te los, vinnig met ritme te memoriseer en kreatief te luister.

By Laerskool Vredendal word die Junior Koor aan verskillende musiekstyle en instrumente blootgestel. Ons werk veral hard aan stembou, frasering, dinamika, intonasie en diksie. Oefentye vind gedurende skoolure plaas. 

Die Junior Koor neem gereeld aan verskeie eisteddfods deel en tree ook by musiekaande en in die gemeenskap op. Hulle verskaf groot vreugde wanneer hulle by die plaaslike ouetehuis  en kerke optree. Die Kerssangdiens aan die einde van die jaar is altyd ‘n hoogtepunt.

Die Junior Koor het al dikwels beoordelaars se harte gesteel en ‘n dubbelgoud by verskeie geleenthede ontvang. Hulle het ook ‘n trofeë in 2019 by KykNET vir die beste nuweling ontvang. Die musiekervarings van die Junior koor plant beslis ‘n saadjie vir ‘n lewenslange sang- en musiek loopbaan.

Gideonie Basson

Senior Koor

Die Senior Koor bestaan uit ongeveer 70 lede en word gekeur aan die hand van ‘n stemtoets wat deur belangstellendes afgelê moet word. Kooroefeninge vind weekliks plaas op Maandagmiddae van 14:00 tot 15:00 en ekstra oefeninge gedurende skoolure.

Die doel van die koor is om leerlinge se sangtalent te ontwikkel en terselfdertyd dissipline, deursettingsvermoë en uithouvermoë aan te leer.

Die koor tree graag by spesiale geleenthede soos saalbyeenkomste en die Kerssangdiens op. Die koor neem deel aan Vredendal Koorfees en die Wes-Boland Eisteddfod.

Die koor het by verskeie geleenthede dubbelgoud ontvang en in 2019 word die koor as die beste nuweling in die senior afdeling van Sing en Harmonie aangewys.

Rensche Verwey

Koorfees

Laerskool Vredendal bied vir die afgelope sewe jaar ‘n Koorfees aan wat deel vorm van Klawer Kunste. In 2022 het 7 kore deelgeneem.

Ons kan met trots sê dat ons Junior Koor goud (89%) en ons Senior Koor Dubbelgoud (91%) behaal het.